Bloubessie Konkoksie

My blender is een van my kosbaarste aardse besittings. Ek het al heen-en-weer beweeg met blender-en-al in die motor, vir gemoedsrus dat ek anderkant nogsteeds my konkoksies kan opklits!
Ek beskou dit as ‘n bederfie aan myself die dag as ek vir my bessies (of neute) koop. Ek troos my deur te redeneer dat ek net sowel my moeder se klererekening kon druk tot in die rooi, maar ek doen nie. Ek koop bessies en neute.

Hierdie Bloubessie Konkoksie kan ek nie klassifiseer as ‘n smoothie nie. Dis nie ‘n vloeibare drankie nie. Ek het hierdie glashouertjie sit en leeg eet met ‘n paplepel op die derde vloer van Harmonie Dameskoshuis, met my toetsnotas voor my neus. (die laaste vluglees het my alie gered in daai toets- of dalk was dit die bloubessies?). Toe dit op was, het ek die blender skoon geëet. Dit was ‘n goeie dag in Stellenbosch.

HOE
Die aand voor die tyd:

Vries ‘n halwe avo in gesnyde skywe, ek het dit beproef, dit werk. Vries ook een klein piesang in ringetjies gesny. Meng twee eetlepels hawermout en ‘n tee-lepel chia saadjies, voeg net onder ‘n halwe koppie kamertemperatuur water by (dis nie nodig om jou hawermout in kookwater te week nie). Die ekstra water gaan die mengproses makliker maak die volgende dag.
Die volgende oggend, in ‘n blender:
Voeg die bevrore avo en piesang in die blender saam met die geweekte hawermout en chia saad. Voeg ‘n eetlepel tahini by. Tahini is fyngemaalde sesamsaadjies, ek brei later hieroor uit in ‘n volgende post. Gooi ‘n handvol bevrore of vars bessies van jou keuse in. Bloubessies was die sterbestanddeel van hierdie pragtige gemors. Laastens, kort die storie nog suiwel. Ek is mal oor suiwelprodukte, maar probeer dit afskaal (al is die lewe reeds soms so bitter, besef ek TE veel van ‘n goeie ding, sleg kan raak…). Ek probeer die beste gehalte suiwelprodukte koop wat ek aan die hand kan kry en bekostig. Hierby, het ek ‘n halwe koppie volroom jogurt van Camphill bygevoeg. Die jogurt bevat slegs twee bestanddele: volroom melk en probiotiese kultuur. Die Jersey koeie is gras gevoer vry van gifstowwe- dankie vir julle opbrengs dames, julle maak my hart gelukkig en my smoothies romerig!
Blits tot deur gemeng, voeg nog vloeistof by indien jy ‘n loperige, drinkbare vorm verkies. Dis die basis, die resep is buigbaar. Kakao is heerlik saam met bloubessies. Neute is natuurlik ook nooit onwelkom by die partytjie nie.

WENKE
Sny jou avo en piesang kleiner voor jy dit vries, dit maal makliker fyn
-Koop ongegeurde jogurt sonder preserveermiddels as jy kan (Woolworths verkoop ‘n bekende produk sonder enige preserveermiddels. As ek nie Camphill in my yskas het nie, storm ek Woolworths toe as tweede opsie).
-Vars bessies buite seisoen is duur, koop op die regte tyd en blend. Elke dag.

Lewer kommentaar