Gousblomkraal

Ek het my moeder se wit mazda gekry en Gouda af gery na Gousblomkraal. Elke keer as ‘n heel hoender uit ons ou blou oond kom, herinner ek my ma om asb nêrens anders hoender te koop, as by Diana van der Merwe nie. Wel tannie Diana vir my. Barstens uit hulle nate en sappig. Murgsag, bottersag, smeltsag, net vreeslik SAG en vreeslik SAPPIG. My moeder Maria ken haar kombinasies van kruie, soet en sout, krediet kom haar toe dat ons altyd smul aan haar hoender, maar al is sy hoe ougat, sal sy nie ‘n maer, taai hoender SO kan laat proe nie.

Diana het groot geword op ‘n wynplaas en beland toe tussen vee. Van kindsbeen af was sy haar pa se skaduwee. As hy skaap werk, was sy by. Vandag het sy haar eie trop wat ‘n mengsel van Dorpers en Dohne skape is. Sy boer skaap, bok en hoender. Oom Jacobie boer koring en lemoene. Verkope het begin met lemoensap, sowat 3 jaar gelede. Die lemoene wat nie uitgevoer word nie, word gepers en vinnig gevries en geen suiker of preserveermiddels word bygevoeg nie. Suiwer lemoensap spuit uit die Midknight Valentia, ‘n lafenis op ‘n warm dag. Net so die granaatsap, wat vir my ‘n absolute luukse is. Ek het al botteltjies granaatsap aangery Stellenbosch toe en vra kort-kort dat my moeder uitvis of daar nog oor is op Volstruisdrif.

Die boerdery was hoofsaaklik gefokus op graan, skaap en sitrus. Uit liefde vir die natuur en die behoefte aan skoon, goeie kwaliteit produkte, ontstaan die hoender- en bokboerdery toe. En dankie tog!
In haar werksklere en plaasskoene, sprankel tannie Diana soos sy praat oor elke trop van skaap tot bok. Vir party kom dit dalk vreemd voor dat ‘n vrou (en dit nog ‘n pragtige een) in ‘n over all en safety boots op die werf werk, maar hiervoor het ek ‘n ander tipe respek. Miskien omdat ek self vrou is, miskien omdat ek droom om ook ‘n heel hoender te kan ontbeen soos hierdie tannie, of dalk omdat ek wens om ook eendag so pragtig te lyk in ‘n over all pak. Met haar geverfde naels lag sy vriendelik en sê, dis einde van die jaar, die naels moet seker mooi lyk.

Alles begin vir haar by die voer van die diere. ‘n Hele lys van produkte (sien onder) het ontstaan uit ‘n boervrou en haar passie vir kwaliteit. Ons twee het kort-kort afgedwaal van die onderwerp met ons vurige menings oor wat ons te koop kry in supermarkte en die onredelike prys van sogenaamde skoner produkte.
Beide tannie Diana en oom Jacobie lewe na aan die aarde. Sy bemark haar hoendervleis met die klem gelê op, “Geen GMO voeding, hulle eet self geproduseerde grane en gars spruite- heerlik!”
Tannie Diana kweek werklik haar eie gars spruite en voer dit vir haar hoenders (g’n wonder hulle bars so uit hulle nate nie!) Nadat ons aan die gesels geraak het oor die wonder van gars of barley, wou ek myself summier op ‘n gars dieet sit! Sy glo in Aloe Vera en dokter ook haar klein kuikens met Aloe druppels. As bok of skaap eierinfeksie kry, kom verby suster, Aloe vir jou! Sy het opgelet as haar pap kuikens nie hulle druppels inkry nie begin hulle kug na ‘n paar dae, nee wat, kom verby met julle! Sy druk sommer haar eie Aloe vetplante fyn, maar die tuintjie kon nie by hou nie. Deesdae koop sy Aloe Vera gel aan om die kroos te dokter.

Haar gewildste produk, is die heel hoender. Ag ons hoef nou nie eers weer te verduidelik waarom nie. Sy pronk en sê, “daai ou mooi hoendertjie in ‘n sak”. Al is oom Jacobie nie gek oor hoender nie, maak tannie Diana graag vir hule krummel hoender fillets. Sy sê as jy dit byt, smelt dit sommerso (en ek glo haar, want ek het al hoeveel keer skelm agterna nog hoender gaan skep as almal die kombuis verlaat het). Sy krummel die hoender, nes haar bokkaas medaljes met hoë kwaliteit, klipgemaalde meel. Daarby gaan altyd vars kruie en knoffel, witpeper en sout. Naas die fillets, lê die gevulde heel hoender hulle na aan die hart (of maag?). Sy maak my sit om my die ontbeningsproses te verduidelik. Tannie Diana verseker my ek sal die tegniek in die sak hê na so vier hoenders. Ek kry daai arme vier hoenders jammer… Sy is natuurlik al flink met ‘n mes. Kaalgat en beenloos word die hoender gestop met rys, hoenderlewertjies, gekarameliseerde uie, sampioene, knoffel, seldery ag en so wat ook al die dag lekker lyk. Soos sy sê, ek weet mos hoe ‘n boervrou werk, bietjie van dit, bietjie van dat. Maak net seker daar is altyd ‘n groending by! Sy het onlangs ook begin hoendermaalvleis maak, kyk op Avontuurlus se Facebook bladsy vir ‘n Broodlose Burger idee!

IMG_0878
Heelhoender
IMG_0833
Broodlose Burger met hoendermaalvleis

Sy kan nie rerig besluit watter deel van die boerdery sy die meeste geniet nie. Dis kostelik as die skape lam, maar dan weer die ou piepklein kuikentjies! As sy een ding kon uitlig, is dit die bokke. Sy put groot satisfaksie uit die kaasmaak proses. Hierdie eienaardige wit vloeistof wat uit die speen kom, waarmee jy so baie kan doen. Sy beskryf dit as intelligent design, nee jammer, Godly design. Die reuk van vars melk met die skuimborrels wat bo-op vorm, dis iets wat jy nie kan namaak nie. Sy wat kom van die druiwewêreld, vind dit fassinerend, die wit vloeistof uit ‘n speen met die ryk reuk en skuim borrels. Van melk tot maaskaas, tot medaljes! Nou ja, my wêreld het ook hier verbreed. Die romerigste, klein kaas wieletjies, toegerol in ‘n fyn brood krummel. Dit word vlak gebraai in olie en bedien as ‘n voorgereg of kan deel vorm van ‘n slaai (en nimmer weet wat nog, gebruik jou verbeelding en jy sal sien!). Ek is altyd oorhaastig en proe al uit die warm pan uit, die wiele is so aanloklik maar jy kan vir jou lelik misgis met ‘n warm wiel. Sien onder “sit vir ete” vir die bokkaas medalje slaai.

Dan natuurlik lamsvleis. Ek is seker dit het ‘n teerpunt by baie mense geraak, omdat die pryse deur die dak skiet en hulle lippe lanklaas lamsvleis oor hulle gehad het. Tannie Diana is die primêre verskaffer, daarom is die vleis natuurlik aansienlik goedkoper as winkelprys. Sy saag dit op volgens jou keuse en voorkeur en vakuum verpak die snitte netjies, reg vir uit haal en braai.

Sy wil graag nog ‘n Jersey koei aankoop om plaasbotter te maak en beplan om uit te brei met haar kase. As ek haar vra wat haar motivering agter die besigheid is, antwoord sy bloot: Sy wil aan mense verkoop, wat sy self sal eet.

Nuutste Pryslys (mag wissel met tyd)
Heel hoender – R49/ kg
Halwe hoender, getrim en vakuum verpak – R60/ kg
Flappie (plat) hoender – R60 /kg
Gunsakke – R68/ kg
Hoenderporsies (2x dye, 2x boudjies) – R68/ kg
Vlerkies – R50/ kg
Ontbeende hoenderborsies – R75/ kg
Fillets – R75/ kg
Hoendermaalvleis – R89/ kg
Ontbeende, gevulde hoender – R95/ kg
Hoenderlewers – R10/ pakkie
Bokmelk – R20/ L
Bokmelk maaskaas – R28/ 180g houer
Bokkaas medaljes – R30 vir 5 (hemel, hierdie wiele…)
Lemoensap – R25/ L
Granaatsap – R18/ 350ml of R25/ 500ml
Knoffel gestopte olywe – R40/ houer

Indien jy belangstel, kontak vir Diana: 083 383 0170, diana.annoint@gmail.com

 

Lewer kommentaar